Skoollied & Wapen

Laerskool Menlopark is op 7 Januarie 1953 geopen met 310 skoliere. Die skool is dus ‘n gevestigde skool met ‘n kleurvolle en trotse geskiedenis. Om gegrond te wees in ‘n trotse geskiedenis is iets wat ons na aan die hart lê. Dit gee aan ons leerders die wete dat hulle deel is van ‘n groter omgewing wat veel wyer strek as net hulself en die jare wat hulle by ons skool as leerders spandeer.
Ons skool se wapen en skoollied is besonders. Elk het ‘n eiesoortige ontstaan wat ons graag trots deel.

Skoolwapen

In 1954 het die skoolhoof, mnr. B.H.P. du Toit, ‘n skoolwapen en -leusekompetisie vir die leerlinge uitgeskryf. Die wenner was Estelle Knobel, ‘n standerd 5-leerling. In hierdie wapen is patriotisme en ‘n liefde vir die natuur saamgesnoer. Die gemsbok is duidelik sigbaar op die skool se wapen. Dit is ‘n dier wat gekenmerk word deur sy ongelooflike gehardheid en sy statige trotse houding. By hierdie trotse gemsbok pas die leuse “Wees Fier”, die refrein van die gedig “Komaan” van Jan F.E. Cilliers. Die strewe is dat hierdie leuse en wapen ‘n rigtinggewende krag gedurende die leerders se skoollewe en ook latere loopbane sal wees.

Skoollied

Die skepper van die skoollied was Dr. O.A. van der Stoep, wat ook op ‘n latere stadium Die Hoërskool Menlopark se skoollied geskryf het. Alhoewel die ontstaan van die melodie en woorde spontaan en feitlik gelyktydig plaasgevind het, was dit volgens ‘n sekere patroon en moes dit voldoen aan bepaalde vereistes wat Dr. van der Stoep vir homself neergelê het. Die lied moes slegs een strofe hê; dit moes eenvoudig en singbaar wees vir kinders vanaf graad 1 tot graad 7. Die lied moes dus kort en saaklik, maar met diepe krag van woorde wees. Die inspirasie het gekom terwyl Dr. van der Stoep in 1963 met vakansie in die Kalahari was.
Die woorde lui:

Getrou in werk en wandel
ook aan volk en taal.
En met die oog na Bo gerig:
Dit is ons ideaal.
In hoof en hart en hand,
in gees en in elke spier,
wil ons, ons dan ook diensbaar maak.
Ons leuse: WEES FIER!