POPIA

Die reg op privaatheid word deur die Grondwet beskerm en die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) verskans daardie reg met wetlike inwerkingtreding op 1 Julie 2021. Laerskool Menlopark verbind hom tot die beskerming van persoonlike inligting.

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

  1. Laerskool Menlopark volg die riglyne soos gebaseer op FEDSAS (Federasie van Verenigings van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) se voorgestelde template en word beskou as ‘n standaard vir beheerliggame en skole ten opsigte van POPIA.
  2. Laerskool Menlopark vra nie toestemming tot enigiets anders as die huidige modus operandi nie, maar wil u in kennis stel dat die skool voortgaan met die manier waarop ons persoonlike inligting en beelde verwerk. Wees asseblief verseker dat die beskerming van ons skoolgemeenskap se persoonlike inligting vir Laerskool Menlopark van die uiterste belang is.
  3. Laerskool Menlopark poog om slegs spesifieke soort foto’s, met ouers se toestemming, te gebruik en te verseker dat beelde geskik is vir ‘n skoolomgewing. Sodanige foto’s dra by tot die bemarking van die skool en om Laerskool Menlopark se etos en leeromgewing te kommunikeer.
  4. Laerskool Menlopark poog om selektief te wees in die gebruik van inligting met spesifieke fokus op die uitvoering van die skool se rol as opvoedings-instelling en in die belang van die bevordering van die leerders en die skool.
  5. Laerskool Menlopark sal steeds persoonlike inligting met betrekking tot die behoorlike funksionering, bestuur en beheer van die skool insamel en verwerk, soos wat die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 en ander tersaaklike onderwyswetgewing en -beleide voorskryf. Verwerking van inligting sluit in die ontvangs, optekening, organisering, sortering, stoor, bywerking of aanpassing, herwinning, wysiging, raadpleging en gebruik; die verspreiding by wyse van oorsending, uitreiking of beskikbaarstelling in enige ander vorm, of die samesmelting, koppeling, sowel as inperking, degradasie, uitwissing of vernietiging van inligting.
  6. Alle dokumente word vernietig binne die tydraamwerk soos deur die POPIA voorgeskryf word.
    • Leerder-profiel na 3 jaar
    • Finansiële jaarstate na 7 jaar
    • Bateregister na 15 jaar