1953
Die skool is op 7 Januarie 1953, onder leiding van die waarnemende hoof mnr. Niehaus, met 8 personeellede, 1 sekretaresse en 310 leerders geopen. Die skool het aanvanklik uit ‘n dubbelverdiepinggebou met 12 klaskamers, 2 grade-kamers, ‘n kunskamer en ‘n administratiewe blok bestaan.
1954
‘n Jaar later, op 12 Januarie 1954, onder leiding van die eerste permanente hoof, mnr. D.P.H. du Toit, is die skooldrag, skoolwapen en skoolleuse vasgestel. Die terrein word gelyk gemaak en beplan. Die eerste 2 korfbalbane en 2 tennisbane word aangelê. Die leerlingtal staan op 385 leerders. mnr. Du Toit het ’n 1954 ‘n skoolwapen- en skoolleusekompetisie uitgeskryf. Die wenner was Estelle Knobel, ‘n gr 6 - dogter. Sy kies die gemsbok met sy ongelooflike gehardheid en sy statige trotse houding. By hierdie trotse gemsbok pas die leuse: Wees Fier.
1955
Die skool het 12 onderwysers en die leerdertal staan op 435 , sommige klasse het tot 40 leerders.Die polio-epidemie het gelukkig nog nie een van Menlopark Laerskool se leerders getref nie. Op 7 Febr. word die eerste interkomstelsel in gebruik geneem, wat die skool 130 – 15 – 0 pond gekos het. Daagliks ontvang elke leerder ‘n 1/3 pint melk by die skool, ‘n vereiste van die Departement. 132 Leerders neem aan die Volkspele Saamtrek met die Eeufeesvieringe van Pretoria deel. Die skoolkonsert word in die kerksaal van Suid-Oos Pretoria gemeente gehou. Die skoolkonsert is ‘n groot sukses!
1956
In die jaar ontvang die skool sy eerste proefstudente. Die skool word die jaar swaar getref met siektes : talle leerders en twee onderwysers het pampoentjies (April) , in die gr. 3B - klas is 84.5% afwesig a.g.v. Duitse masels (Augustus) en die eerste geval van polio in die gr. 1 klas (Mei) word aangeteken waarna sportaktiwiteite vir 3 weke gestaak word. ’n Kermis word vir die jaar beplan vir fondsinsameling wat ‘n groot sukses was. Die elektriese afrolmasjien het die afrol van die jaarblad baie maklik gemaak. Die gr. 7-leerders hou tydens pouse ‘n konsert vir die Hongaarse Noodlenigingsfonds , die inkomste vir die konsert was 20 pond !!!! Die skool sluit om 12:15 op 13 Desember. Voorrade in stoorkamers word getel en klaskaste word behoorlik skoon gemaak.
1957
Leerdertal 508 , 15 personeellede. In Februarie word ‘n paar gevalle van skarlakenkoors en masels aangemeld, die skoolbesoek is in Augustus die swakste ooit – 70,9% a.g.v. waterpokkies , skarlakenkoors , masels en griep. Op 18 Oktober vind die eerte ouerdag (oueraand) plaas , Van nou af sal dit ‘n gereelde instelling word. Die fietsloods is op 28 Oktober voltooi.
1958
Leerdertal 541 , 16 personeellede. Talle leerders vertrek in die derde kwartaal na Kaapstad vir die parlementsitting. Op 27 Augustus word die skool se rooster aangepas om na die roudiens van wyle Adv. J.G. Strydom te luister. Die skool is gesluit op 29 Augustus vir die begrafnis. Op 28 Oktober word die skool se luidsprekers gesteel asook ‘n paar skoene van ‘n onderwyser. Die gr. 7 leerders se afskeidsgeskenk is ‘n radiogram met luidsprekers.
1959
Leerdertal 581 , 16 personeellede. Gedurende 1959 en 1960 neem mnr. J.P. Marais waar as hoof.
1960
Leerdertal 599. Die skool-atletiekspanne word oor ingedeel: Grys-, Rooi-, en Steenbokke. Op 2 Junie is die leerdertal 612 met 18 personeellede. Die eerste Seinhorlosie word op 25 Augustus geïnstalleer. Op 7 Desember word ‘n pennielegging gehou – dit sal die eerste en laaste een wees omdat die pennies te veel was om te tel. Die pennies is geweeg om die bedrag te bepaal.
1961
Mnr. J.H.L. Venter is die nuwe hoof, die leerdertal is 663. Hy vestig die aandag van die ouers en onderwysers daarop dat ‘n skoollied nodig is. Die eerste volkspelesaamtrek word op 22 Mei gehou. Republiekwording word op 30 Mei op Loftus Versveld gehou. Die skooldrag vir dogters verander op 26 Junie na ‘n rok nadat baie klagtes ontvang is. Gedurende Julie word die skoolwapen wat deur Estelle Knobel ontwerp is, aanvaar. Op 25 Augustus word begin met die uitgrawe van die swembad.
1962
Leerdertal 754. Op 12 Februarie is die swembad vol water getap. Mnr. Pretorius word op 23 Julie as waarnemende hoof aangestel. Op 24 en 25 September is 74 leerlinge afwesig a.g.v. die Duitse Masels epidemie. Op 9 November word die swembad amptelik in gebruik geneem. ‘n Sentlegging word gehou vir die Transvaler se Kersfonds (R14) en die Vaderland se Strandoorde (R12).
1963
Leerdertal 825. ‘n Noodvergadering van die Skoolkomitee word op 1 Februarie gehou waar besluit word om die Skoolfonds te verhoog na R2 per leerder per jaar, ongeag die hoeveelheid kinders in die gesin. Gedurende Februarie begin spraakterapeute die skool op Maandae en Donderdae besoek. Op 30 Julie word ‘n tender vir R34 500 aanvaar vir die bou van die skoolsaal en die hoof lê op 10 September die eerste steen. Die skool sluit met 866 leerders en ‘n gemiddelde skoolbesoek van 96% vir die jaar.
1964
Op 19 Junie word die eerste opening in die nuwe saal gehou. Die Gesondheidsraad en die Raad vir Buitestedelike Ontwikkeling het erwe 275 tot 282 aan die skool geskenk vir sportdoeleindes. Die leerdertal in Julie is 974. Wyle ds. Murray Janson het die opening op 13 Oktober waargeneem. Die skoolsaal is op 6 November amptelik in gebruik geneem en die operette “Abdulla” is op 7, 9 en 11 November opgevoer.Met die sluiting van die skool vir die jaar, het die leerdertal op 979 gestaan met ‘n gemiddelde skoolbesoek van 97,7%.
1965
Leerdertal 1086. Op 30 Mei word die fondasies uitgelê vir die bou van die permanente Gradeklasse. Dr. Oosthuizen skenk sy Saambou–aandele aan die skool sodat boekpryse aangekoop kan word vir verdienstelike leerders met leierseienskappe, getrouheid en hoflikheid. Op 1 Augustus word daar by die skoolsaal ingebreek, die luidsprekers voor in die saal is gesteel. Die skool kwalifiseer vir sy 34ste pos op die personeel, aangesien die leerdertal opgeskuif het na 1125. ‘n Bedrag van R4423.95 word met die kermis in September ingesamel. Op 23 September word daar by 3 klasse ingebreek waarin die naaldwerktrommels oopgebreek word, die biblioteek se gordyne
is ook gesteel. ! Nog ‘n inbraak op 15 Oktober, ruite in die nuwe klaskamers word gebreek en die brandslange word daarin gesit en oopgedraai. Die skool sluit op 10 Desember met 1124 leerders en ‘n gemiddelde skoolbesoek van 97,7%
1966
Leerdertal 1170. Die skool luister op 21 Januarie na die opening van die Parlement. Op 20 Junie besluit die skoolfondskomitee om ‘n Yamaha Vleuelklavier aan te koop teen R1 230. Daar is op 11 Julie ingebreek en 40 koppies is gesteel. Die vleuelklavier word afgelewer. Dr. Verwoerd is oorlede op 7 September, die vlag word halfmas gehys op 8 September en alle aktiwiteite is na-skool gekanselleer om eerbied te betoon.
Op 9 September vergader die skool vir ‘n roudiens. Graad 7-leerders vertrek met 3 busse en 6-leerkragte na die Krugerwildtuin vir die week. Die skool sluit op 9 Desember met
‘n gemiddelde skoolbesoek van 98%
1967
Leerdertal 1218. Laerskool Lynnwood stig af van Menlopark. Laerskool Lynnwood open op 25 Julie 1967 met 14 onderwysers en 416 leerders. Ouerdag het op 21 Augustus plaasgevind , die gemiddelde besoek was 75%. Die tennismuur is op 9 Desember voltooi.
1968
Leerdertal 762. Die eerste van 4 losstaande pawiljoene wat deur mnr. Van Heerden gemaak is, word op 19 Januarie afgelewer. Op 19 April word die film – Die Voortreflike FamilieSmit, in die skoolsaal vertoon. ‘n Totaal van R3 958,32 word met die kermis in Augustus ingesamel. Op 19-20 November word ‘n uitstalling in die saal gehou van Kuns- , Hand- en naaldwerk. Die skool sluit op 6 Desember met ‘n leerdertal van 776 en ‘n gemiddelde skoolbesoek van 97,8%.
1969
Die nuwe rugbypale is op 28 Augustus geplant op die B-veld. “n Verskeidenheidskonsert word van 15-20 September in die skoolsaal aangebied, die inspekteur verleen toestemming dat die skool om 12:00 mag sluit sodat die leerders mag huis toe gaan om weer 14:00 by die skool te wees vir die eerste opvoering.
1970
Die Departement versoek die personeel in ‘n omsendbrief om ten volle oor te skakel na die metrieke stelsel. Die skool is op 22 April gesluit vir die Algemene verkiesing wat by die skool plaasvind : Vereenigde Party , H.N.P. en die Progressiewe Party. Op 19 Junie is 111 leerders afwesig a.g.v. griep. Die Bybelfees op 17 Augustus, wat bestaan uit spreekkore, orrelspel, dames-en manssolo’s samel ‘n pragtige bedrag van R84.38 vir Bybelverspreiding in. Die film “ Die rugbytoets van S.A. teen Engeland 69/70” en “The Grand Prix at Kyalami” word op 2 September vertoon in die saal. Op 2 November word 4 hoërskoolseuns betrap waar hulle met brandslange gespeel en klippe geskiet het. Die polisie is ontbied en hulle ouers is in kennis gestel. ‘n Bedrag van R81.35 word met die sentlegging ten bate van “Die Transvaler se Kersfeesfonds” en die Bloedrivier monument op 2 Desember ingesamel. Die skool sluit op 4 Desember met 817 leerders en ‘n gemiddelde skoolbesoek van 98%.
1971
Leerdertal 831. 26 Maart – die skool sluit vir die Paasvakansie en niemand van die personeel gaan weg nie! Op 24 Junie ontvang die skool 21 x 3M-truprojektors. Die tennishuisie se fondasie is op 21 Oktober uitgegrawe – die totale koste was R550. Die muur se koste was R240. Die skool sluit op 3 Desember met ‘n leerdertal van 824 en ‘n gemiddelde skoolbesoek van 97.1%.
1972
Leerdertal 796. Die Mediese inspeksie gedurende April toon aan dat die algemene gesondheid van die leerders goed is, die tuberkulose toetse vir gr. 1, st. 2 en st. 4 word in Augustus by die skool gedoen. Gedurende September word die operette “Skoenmaker : Stille Water” opgevoer, die kaartjies was R1.50 elk. Die skool sluit op 1 Desember met 797 leerders op die rol.
1973
Leerdertal 816 en 27 onderwysposte. Mnr. L.T. de Jager begin vandag as hoof van Laerskool Menlopark. Die Bantoetale Zoeloe en Noord-Sotho word van vanjaar af slegs as ’n kommunikasiemiddel in ’n paar proefskole in ons omgewing aangebied. Op 26 Junie word daar vir die 2de keer die jaar by die administratiewe blok van die skool ingebreek. Die gr. 1-leerders word ondersoek vir TB. ’n Bedrag van R6,000 is met die kermis in Augustus ingesamel. Die st. 5-leerders vertrek na Natal vir hulle opvoedkundige toer. Die ou telefoonstelsel word op 29 Oktober vervang. Die skool sluit op 12 Desember met 808 leerders.
1974
Leerdertal 843. Op 15 Januarie besoek Prof. Nel, die skoolraadsverteenwoordiger, die skool om die sluiting van 10de straat te bespreek. Die skool vier op 16 Augustus sy 21ste verjaarsdag met ’n buitelugfunksie. Die st. 5-leerders vertrek in Oktober na Natal vir hulle opvoedkundige toer. Laerskool Lynnwood en Laerskool Menlopark se st. 5-leerders het op 3 Desember hulle gesamentlike kerkdiens. Die skool sluit op 6 Desember met 844 leerders.
1975
Leerdertal 855. Die Taallaboratorium word in April in gebruik geneem. Op 15 Mei het die stadsraad die hoof in kennis gestel dat 10de straat gesluit kan word en dat die stadsraad onderneem om al die werk in hierdie verband te doen. Die skool het nog nooit ’n vlag gehad met die skoolwapen op nie, ’n skoolvlag is spesiaal ontwerp en vir die eerste keer op 26 Junie gehys. Die st. 5-leerders vertrek op 10 Oktober na De Hoek (Tzaneen) vir die Jerugweerbaarheidskamp. Op 2 Desember word die gesamentlike kerkdiens van Laerskool Lynnwood en Laerskool Menlopark gehou. Die skool sluit op 3 Desember met 897 leerders.
1976
Leerdertal 892. gr. 7–leerders vertek op 19 Januarie op hul Jerugweerbaarheidskamp. In Februarie bied die Weermag-vermaaklikheidsgroep ’n puik program vir die skool aan. Op 10 Mei word die nuwe gordyne in die saal gehang. Die kleinseun van die Staatspresident, Muchail Jordaan in st. 1P se hele klas is op uitnodigng van die Staatspresidentspaar genooi vir ’n onthaal by die Presidensie. Hulle is vergesel deur die klasonderwyseres mev. Roodt. Die operette Die goue Hart word van 12-15 Oktober opgevoer. Die gesamentlike kerkdiens van Laerskool Lynnwood en Laerskool Menlopark vind op 1 Desember plaas. Die skool sluit op 3 Desember met 894 leerders.
1977
Leerdertal 892. Die gr. 1-leerders word in Maart ingeënt teen TB. Op 30 Junie gaan 15 van die skool se st. 5-leerders na die Onderwyskollge vir ’n TV-opname. Vir Afrikaans. ’n Sentlegging ten bate van senior burgers word op 23 September gehou en ’n bedrag van R60,30 word ingesamel. Die skool hou ’n massa sportbyeenkoms en 82,2% van die skool het deelgeneem. Die skool sluit op 6 Desember met 926 leerders.
1978
Leerdertal 850. Op 24 Februarie hou die personeel ’n gesellige kenmekaar-aand met die ouers. Die A.G. Visser gedenkprogram op 31 Maart was uiters geslaagd. Die oupas en oumas is ook uitgenooi na die geleentheid. Die st. 5- seuns vertrek na Schoemansdal en die dogters na Ethabeni vir die Jeugweerbaarheidskamp op 15 Junie. Die krieketnette word in September op die B-veld opgerig teen ’n koste van R1,100. Die talentaandkonsert gedurende September was ’n reuse sukses in die bedrag van R410 is ingesamel. Met die massahuissport gedurende Oktober neem 67% van die leerders deel aan die atletiek. Die skool sluit op 7 Desmber met 846 leerders.
1979
Leerdertal 881 en 30 onderwysposte , die hoof is mnr. L.T. de Jager. Op 9 Maart word die telbord wat deur Coca Cola geborg is , op die A-veld opgerig. Die Noodplan word op 30 Maart deur die hele skool geoefen , die Brandweer, Verkeerspolisie en die Noodhulpliga was deel van die oefening. Die Hoërskool Menlopark , Laerskool Lynnwood, Nuwe Hoop skool vir serebraal gestremdes en Laerskool Menlopark bied gesamentlik ‘n Republiekfeesprogram aan op 30 Mei by die Hoërskool aan. Op 18 Junie word daar in die kombuis ingebreek by die administratiewe blok en die volgende is gesteel : stofsuier, yskas , earn , en die elektriese ketel. Die Deense regering het ‘n uitnodiging aan ‘n 11 jarige seun en dogter uit elk van die republiek se hoofstede gerig om Denemarke vanaf 23-31 Oktober te besoek as gas van die Deense regering. Die vereiste was ‘n “praatkennis” van Duits en Engels. Michael Jordaan ‘n leerder van Laerskool Menlopark en ‘n kleinseun van ‘n gewese staatspresident , Dr. Diedericks, is gekies om te gaan. Al die ander skole in die omgewing het ook leerders ingeskryf. Die dogters se skooldrag verander op 2 Julie na die groen Princess skoolrok. 6 Ruite is op 11 Julie by die grade-klasse deur seuns met kleilatte stukkend geskiet. Mnr. De Jager word Inspekteur van Onderwys op 13 Augustus 1979 en die adjunk-hoof, mnr. J.J. Louw neem waar as hoof. Twee leerders wat skarlakenkoors het, word onder kwarentyn geplaas. Op 20 September verander die naam biblioteek na mediasentrum. Die motorafdakke is aan die einde van Oktober voltooi. Al die leerders van graad 5-7 skryf op 8 November die Algemene Kenniseksamen in die saal. Sewe brandblussers is gesteel. Die skool sluit op 6 Desember met 899 leerders.
1980
Leerders 925. As gevolg van die groot aantal nuwe leerders in die skool , word die kombuis en die saal se verhoog as tydelike klaskamers gebruik. Twee tydelike klaskamers word aan die oostekant van die saal opgerig. Meneer J.J. Cloete word op 1 April amptelik die nuwe hoof. Op 3 Junie word daar in talle klaskamers ingebreek . Die talentaand op 5 September is ‘n groot sukses. Die jaarlikse Kersprogram word in die skoolsaal opgevoer “ Van Krip tot Kruis”. 50 Prefekte neem aan ‘n optog deel ter viering van Pretoria se 125 ste verjaarsdag. ‘n Gesamentlike kerkdiens vir graad 7-leerders van Laerskool Menlopark, Laerskool Lynnwood en Laerskool Tygerpoort, word in die N.G.-Gemeente Lynnwood gehou op 3 Desember. Leerdertal 969.
1981
Leerders 984. Met die posseëllootsing in Februarie verower die skool die 1980-trofee vir die hoogste bedrag ingesamel vir Kreupelsorg in die Noord-Transvaalstreek R1500. Op 27 Februarie word die Slag van Amajuba herdenk. Die st.4 –toergroep keer op 22 Maart terug van die Kaap af. Al die hoofseuns en –dogters van Transvaalse Skole, neem aan die Republiekfeesvieringe by die Staatsteater deel. Die jaarlikse Talentaand word op 18-19 Junie gehou. Die st. 5-leerders vertrek op 15 Oktober na die Veldskool. Die ingangsportaal by die administratiewe kantore , wat as ‘n Personeelkamer ingeruim is, word vandag in gebruik geneem. Die jaarlikse Kersprogram word op 4 - 6 November aangebied. Die st. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 2 Desember gehou. Leerdertal 982.
1982
Leerdertal 867, Personeel : 7 mans en 27 dames. Die skoolsaal dien as stemlokaal vir die Stadsraadsverkiesing op 3 Maart. Die standerd 4 – toergroep vertrek op 4 Junie na Natal. Op 31 Julie is die vergroting van die skoolsaal se verhoog en ‘n addisionele deur na Tiendestraat voltooi. In September word die operette “ Pinochio” opgevoer. St. 7-leerders vertrek op 23 September op veldskool. Die skooldrag word amptelik op 1 Oktober verander. Die st. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 30 November gehou. Leerdertal 884.
1983
JUBILEUMJAAR – die skool is 30 jaar oud ! Leerdertal 805 , daling van leerdertal veroorsaak dat die aantal onderwysers verminder tot 33. Die skoolfonds beloop R70 per kind, R40 vir ander kinders van die gesin. Die Talentaand vir juniors en seniors word op 2 en 4 Junie gehou. Die st. 4 – leerders vertrek op 20 Junie op die Nataltoer. Die personeel voer “ Die Rooi Lêer “ van Mikro in Julie op, die saal was beide aande stampvol ! Die jaarlikse Kersprogram word op 10 – 15 November aangebied. Op 17 November vertrek die st. 5 – leerders na die Veldskool. Die St. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 6 Desember gehou. Leerdertal 819.
1984
Leerdertal 809. Tydens die Huissport word die nuwe pawiljoen in gebruik geneem. ‘n Massa gimnastiekvertoning word ook tydens die geleentheid gelewer. ‘n Paar jong seuns van die Hoërskool word op 17 Februarie betrap terwyl hulle die bronsplaat ter ere van mev. Maas in Andersonstraat beskadig het, die saak is by die polisie aangemeld. Die st. 4 en 5 – leerders vertrek op 19 Maart op die Kaaptoer. Op 30 Mei word die Republiekfees gevier saam met Waterkloof Engelsmediumskool in die vorm van ‘n boeresport. Die Talentaande in Junie was suksesvol. Op 7 September vier die Kruithoring Voortrekkerkommando sy dertigjarige bestaan. ‘n Ossewa met ‘n span osse vertrek na die Willem Prinsloo Opelugmuseum. Die jaarlikse Kersprogram word in November aangebied. Die st. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 3 Desember gehou. Leerdertal 819.
1985
Leerdertal 787. ‘n Leerder Jacobus Coetzer in st.2 , is op 12 Junie noodlottig op die rugbyveld beseer terwyl ‘n paar maats rugby gespeel het. Hy het sy nek gebreek. Die Revue “Wonderland van die Jeug” word in September aangebied – ‘n reuse sukses. Die st. 5 – leerders vertrek op 23 September na die Veldskool. ‘n Uitstalling van leerders se Kuns – en Basiese Tegnieke vind in Oktober in die skoolsaal plaas. Mevv. Van Zyl en Bedeker , die skool se administrasieklerke , was in die Lynnwoodse tak van Volkskas tydens ‘n rooftog. Hulle is gelukkig nie beseer nie , maar het ernstig aan skok gely. Die st. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 2 Desember gehou. Leerdertal 782.
1986
Leerdertal 759. Op 23 Junie vertrek die st. 5 – leerders op die Nataltoer. In Augustus vertrek die st. 4 – toergroep na die Oos-Transvaal. Die personeelkamer word op 18 September ontruim sodat dit omskep kan word in ‘n ingangsportaal. Die st. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 2 Desember gehou. Leerdertal 753.
1987
Leerdertal 783. Die skool is gesluit op 1 Mei vir die eerste Werkersdag. Drie kore tree op in die Aula met die Applouskonsert. Op 21 Mei ontvang die skool ‘n bomdreigement in skooltyd. Die noodplan word daarna weer ingeoefen.
1988
Leerdertal 796. Op 21 Maart is daar ‘n kopluisepidemie in die skool – 60 leerders word huis toe gestuur. ‘n Toets word deur sekere leerders afgelê om te bepaal of ‘n leerder begaafd is of nie. Standerd 5 – leerders vertrek op 2 Augustus na die Veldskool. R3000 word tydens die jaarlikse Kersprogram in November ingesamel.
1989
Leerdertal 832. Die operette “ Die Legende van Anemette” word in November opgevoer.
1990
Leerdertal 854. Gedurende Maart is die st. 5 – leerders by die Veldskool en op 26 Maart vertrek die st. 4 – leerders op die Wes-Transvaaltoer. Op 30 Augustus vind die tweejaarlikse Kermis plaas – ‘n reuse mallemeule.
1991
Leerdertal 858. Op 30 Mei word die dertigste herdenking van Republiekwording gevier, al die leerders neem deel aan ‘n pragtige kultuurprogram gevolg deur boeresport. Die gemeenskap versoek die owerheid om die skool om te skakel na ‘n Model B-skool. Die stempersentasie was 85% en 73% het “Ja” gestem. Die jaarlikse Taal-en Kultuuraand was ‘n reuse sukses ! Die Revue “Musiek deur die eeue” word in November opgevoer. Die st. 5 – leerders se afskeidskerkdiens word op 2 Desember gehou.
1992
Leerdertal 904, 170 nuwe leerders waarvan 144 gr. 1-leerders is. Die skool is op 17 Maart gesluit vir die Referendum. Op 1 April word die skool amptelik ‘n Model C-skool. Tiende straat word gesluit vir verkeer. Mnr. T.L. Marais van Laerskool Bosveld in Ellisras, word op 2 November aangestel as mnr. J.J. Cloete se opvolger. Hy is die vyfde permanente hoof sedert die ontstaan van die skool.
1993
Leerdertal 937, 36 onderwysposte. Op 10 Mei word die skool se veertigste verjaarsdag gevier met ‘n reuse kermis en sportdag. In Mei begin die stelsel waar ouers vrywillig diens doen wanneer ‘n personeellid afwesig is. Die personeel woon in Augustus ‘n kursus in kreatiewe denke by. Die operette “Pampoenkopland" en "Die Trein ne Sewesfontein” word in September opgevoer. Op 19 Oktober word die eerste Oorbruggingsprogram vir 1994 se gr. 1 – leerders aangebied.
1994
Leerdertal 961. Die eerste keer in die geskiedenis van die skool word leerders van ander bevolkingsgroepe toegelaat. 30 Personeellede woon ‘n werksessie oor Rekenaargesteunde Onderwys by die U.P. by. Op 30 Maart verskyn die eerste kwartaalblad van die skool. Op 26 April word die ou vlag die laaste keer gehys en Die Stem word gesing, daarna word die nuwe vlag gehys. Die eerste Wetenskapuitstalling word by die skool gehou, die belangstelling was oorweldigend. Tydens die Revue “Padlangse Potpourri” neem 953 van 961 leerders deel. Die st. 4 en 5 – leerders onderneem gedurende Oktober hulle verskeie toere. Tydens die jaarlikse Kunsuitstalling het die bekende kunstenaar, Bettie Cilliers Barnard, ‘n trofee aan die beste presteerder oorhandig. Die eerste Prestige Prysuitdelingsfunksie word op 11 November gehou.
1995
Leerdertal 978. Gedurende Augustus oorskry die leerdertal die 1000-merk, 1001 leerders. 992 Leerders neem aan die opvoering van “Jesus Leef” deel. Mnr. J.J. Louw tree na 39 jaar in die onderwys en 23jaar diens by ons skool af.
1996
Leerdertal 1018. Die senior koor was in April op ‘n baie geslaagde kamp vir die naweek. Die junior koor tree op 27 Mei in die Aula op en die opvoering is oor Radio Rippel uitgesaai.
1997
Leerdertal 1072. Die graad 7 – leerders vertrek op 19 Januarie op die Veldskool. Die graad 6 – leerders vertrek op 3 Augustus na die Veldskool. Die nuwe spreiligte word op 28 Augustus in gebruik geneem. Die eerste Opedag vir voornemende gr. 1 – leerders word op 4 September gehou.
1998
Leerdertal 1022. Graad 6 – leerders vertrek op die Veldskool in Augustus. In September word die Revue “Ons maak amok in ons Taal” opgevoer. Die Gemsbokkie is op 14 Oktober gesteel, hy is darem later weer teruggevind.
1999
Leerdertal 1010. Die opvoering van die Passiespel “God het my raakgesien” was uiters geslaagd. Me. M. Du Plooy tree af na 30 jaar diens, asook me. Anita Erasmus na 27 jaar diens , waarvan sy die afgelope 15 jaar Adjunkhoof was.
2000
Leerdertal 961. Die Nuwe Millenium is hier! Die gr. 6 – leerders vertrek 31 Julie na Schoemansdal. ‘n Puik Wetenskap Ekspo illustreer leerders se kreatiwiteit en vindingrykheid. Die eerste English Public Speaking Evening word op 31 Augustus gehou, Excellent!! Die jaarlikse Prestige Gholfdag op 9 September samel R20000 in. Die Opedag vind op 10 September plaas. Op 3 Oktober word daar begin met die bouwerk van die gr. 0 – klasse. Die gr.7 – leerders voer ‘n Revue op en vertrek op 23 Oktober na Leopard Rock vir hulle jaarlikse uitstappie.
2001
Leerdertal 934. Die amptelike ingebruikneming van die Voorskoolse Sentrum – Parkieland vind op 30 Mei plaas. In September word die Revue “Note vir Afrika” aangebied. Die gr. 7 – leerders vertrek op 25 September na Leopard Rock.
2002
Leerdertal 906. Die jaarlikse Inligtings –en Opedag vind op 3 Augustus plaas. Gr.7 – leerders vertrek na die Noord-Wes Provinsie op ‘n opvoedkundige toer.
2003
Leerdertal 887. Leerdertal 887. Ons skool is vanjaar 50 jaar oud! Ons vier vandag, 17 Januarie, ons skool se verjaarsdag met ’n reuse kinderpartytjie en ’n verjaarsdagkoek –model van die skool. Elke leerder het ’n stukkie van die koek ontvang. Die leerders het die getal 50 op die rugbyveld gevorm en op die telling 50 het elkeen ’n ballon losgelaat (wit, geel en groen balonne). ’n Vliegtuig wat deur ’n ouer gereël is, het ’n lugfoto van die gebeure geneem. Die jaarlikse kaskardag vind op 30 Mei plaas, dit word gekombineer met ’n karnaval. Tydens ‘n Prestige-aand aangebied deur die Onderwysdepartement, Tswane-Suid, is ‘n toekenning in die klas “Excellent” aan ons skool se Beheerliggaam gemaak vir die dienste gelewer die afgelope drie jaar! Die opvoering van die Revue “Die Storie van ons Skool” begin op 4 September was van hoogstaande gehalte. Die gr. 6-leerders vertrek op 15 September na die veldskool. Die gr. 7-leerders vertrek op 13 Oktober na Kwaggasrus vir hulle avontuurkamp. Op 10 November stap die hele skool na die N.G.Kerk Suidoos Pretoria waar ’n lofdiens geleideur dr. James Kirkpatrick, gehou is en die kore opgetree het. ’n Gedenkplaat word by die Gemsbokkie by die kantoor onthul ter herinnering aan die vyftigjarige bestaan van die skool. Die volgende personeellede verlaat ons diens: mev. Muriel Bedeker na 25 jaar diens en mev. Erika Steyn na 20 jaar diens. Die skool sluit op 5 Desember met 873 leerders.
2004
Leerdertal 829. Die Gauteng Online rekenaarsentrum wat deur die department aan ons verskaf is, word op 20 Februarie voltooi. Die jaarlikse Kaskardag was ’n reuse sukses en almal het dit geniet. Mev. Hendrien Swanepoel tree af en verlaat ons na 38 jaar diens. Die skool sluit op 3 Desember met 824 leerders.
2005
Leerdertal 804. Ons rugbyspanne was 2de en netbalspanne was 1ste by die Super 12. Die skool sluit op 2 Desember met 802 leerders.
2006
Leerdertal 781. Die revue "Musikale Mosaïek" word in September opgevoer.Die gr.7-afsluitngsdiens saam met Lynnwood Laerskool word op 15 November gehou Die skool sluit op 3 Desember met 824 leerders. Ons rugby- en netbalspanne eindig derde met die Super 12.. Die kaskardag op 14 Junie word deur die hele skool geniet.
2007
Leerdetal 714.Die eerste Gemsbokfees is op Saterdag 9 Junie gehou. Dit was ’n reuse sukses. Op 25 Julie vier laerskool Lynnwood hul 40ste verjaarsdag en as deel van die feesvieringe het ons ’n gesamentlike diens op ons skoolterrein waar groeteboodskappe wedersyds uitgeruil word. ’n Konsert ter ere van die uittrede hoof mnr. T.L. Marais op 23 Oktober in die Performer teater gehou, waarin sy lewensverhaal uitgebeeld is. Op 30 November tree mnr. Marais na 15 jaar diens by Laerskool Menlopak en 39 jaar by die departement af.





